Bendelede op 18 klagtes gevonnis, leier kry twee keer lewenslank

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – Altesaam 14 lede van die SVK-bende, wat die leier, mans en vroue insluit, is Woensdag in die hooggeregshof op Ficksburg op 18 klagtes gevonnis. Dit sluit klagtes van moord, poging tot moord, ontvoering, bendeverwante misdade, ernstige aanranding, huisroof met verswarende omstandighede en opsetlike saakbeskadiging in.

AO Mmake Mophiring sê die bende se basis was in Magheleng, naby Ficksburg. Die hofsaak het vyf jaar geduur omdat die beskuldigdes volgens Mophiring gereeld van prokureurs verander het en tydens die verhoor glo gereeld siek sou wees.

Seqaka Masiza (29), die leier van die bende, wat tydens die pleeg van die misdade op parool was, is tot twee keer lewenslank en nog 89 jaar tronkstraf gevonnis.

Ficksburg-speurders het die bendelede, wat gevaarlike wapens tydens hul misdaadtogte gebruik het, oor ‘n tydperk in hegtenis geneem. Hulle het jong mense en bejaardes vermoor en sou soms jong meisies gebruik om slagoffers te ontvoer en na Lesotho te neem.

Al die beskuldigdes is Woensdag skuldig bevind. Buiten die leier, wat meer as twee lewenslange vonnisse ontvang het, is Katleho Phosa, Phakiso Motake, Retshedisitswe Lebitsa, Charles Morapeli, Mojalefa Mokhethi, Mojalefa Luthango, Moeketsi Mabele en Lehlohonolo Sonopo tot tussen 22 en 25 jaar direkte tronkstraf opgelê. Die vroue, Matshokolo Taile, Nteboheng Makgotla, Palesa Motsapole, Lindiwe Moletsane en Malekoko Tsolo, is tot tussen 10 en 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis.

Speur.sers. Mohlomi Mofolo van Ficksburg het die suksesvolle vonnisse deur uitsonderlike speurwerk verseker.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel