Navorsing vind verband tussen anoreksie en vroeg opstaan

Deel hierdie storie / Share this story

Nuwe navorsing dui daarop dat die eetversteuring, anorexia nervosa, geassosieer word met vroeg opstaan in die oggend, anders as baie ander versteurings wat geneig is om “aandgebaseerd” te wees. Aandgebaseerde versteurings is onder andere depressie, vergryp aan kos (binge) en skisofrenie.

Die studie wat in die JAMA Open Network-joernaal gepubliseer is, het ook ’n verband tussen anoreksie en slaaploosheid gevind.

Vorige navorsing het slegs ’n moontlike verband tussen eetverteurings en die liggaam se interne klok voorgestel. ’n Mens se sogenaamde interne klok beheer ’n wye verskeidenheid van biologiese funksies soos slaap en beïnvloed amper elke orgaan.  

Hierdie studie het egter gene wat met anoreksie verband hou sowel as slaapkenmerke geassesseer. Daar is bevind vroeg gaan slaap en vroeg opstaan verhoog die risiko vir die ontwikkel van anoreksie. Anoreksielyers kan ook geneig wees om vroeër op te staan.  

Anoreksie is verantwoordelik vir die tweede hoogste mortaliteitsyfer van alle psigiatriese versteurings. Navorsing soos hierdie kan tot die effektiewe behandeling van die toestand bydra.

Lees die volledige navorsingsartikel hier: 10.1001/jamanetworkopen.2023.50358

Bronne: Science Daily, National Institutes of Health