NASIONAAL. – Meer as 50 000 verdagtes is van 17 Desember 2023 tot 7 Januarie 2024 landswyd deur die polisie vir beweerde misdade in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe sê tydens die feesseisoen is voet-, voertuig- en lugpatrollies in geïdentifiseerde misdaadprobleem-areas verhoog om sodoende misdaad te bekamp en te minimaliseer. Dit sluit grense, plaaslike, provinsiale en nasionale paaie en openbare areas soos inkopiesentrums, parke en strande in.
Volgens Mathe is ‘n allemintige 61 051 patrollies deur polisielede gedoen, wat verskerp sal word namate mense na werksplekke en leerlinge na skole terrugkeer.
Bykomend is 3 330 padblokkades uitgevoer en voertuigkontrolepunte op paaie ingestel. Die fokus saam met ander departemente was volgens Mathe om gesoekte misdadigers, onwettige vuurwapens, dwelms, onwettige goedere, dronkbestuurders, gesteelde voertuie, sowel as gekaapte voertuie hok te slaan en op te spoor.
Mathe sê voorts padblokkades, stop-en-deursoekpunte, sowel as voertuigkontrolepunte sal voortgesit word.
Beslag is op altesaam 267 onwettige en ongewenste vuurwapens gelê en 197 gesteelde en gekaapte voertuie is teruggevind.
Genl. Fannie Masemola het die versekering gegee die polisie sal op ‘n hoëgereedheidsgrondslag bly.
Gemeenskappe word aangemoedig om die oë en ore van die polisie in die stryd teen misdaad te bly.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



