Bloem-vrou in hegtenis na minnaar sterf

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN, VRYSTAAT. – ’n Vrou (33) is Saterdag in Navalsig in hegtenis geneem vir die beweerde moord op haar minnaar (36).

Polisielede het Saterdagaand om 21:40 ’n klagte vanaf Roodewal ontvang. ’n Patrollievoertuig is uitgestuur.

Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle ’n man gevind wat roerloos op sy rug in die veld gelê het. Hy het ’n steekwond aan die linkerkant van sy borskas gehad.

Volgens die polisie het die verdagte steeds die bloedbevlekte moordwapen in haar besit gehad. Die slagoffer en verdagte het na bewering vroeër die aand voor ‘n rusie saam alkohol gedrink.

Paramedici het die slagoffer met hulle aankoms op die toneel dood verklaar.

’n Saak van moord is by die Navalsig-polisiestasie geopen en die vrou bly in aanhouding. Sy sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

Bronne: SAPD, Twitter