Verdrinking eis twee lewens, nog ‘n man vermis

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP. – ‘n Tiener (18) is dood en ‘n man (28) vermis nadat hulle op Nuwejaarsmiddag deur die see by Strandfontein meegesleur is. Nog ‘n man (24) is in ‘n afsonderlike voorval oorlede.

NSRI Strandfontein en die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is geaktiveer.

Met aankoms op die toneel is die 18-jarige op die strand gevind waar KPR op hom toegepas is. Ondanks reddingspogings is hy dood verklaar.

‘n Soekgtog na die vermise man is op see en land voortgesit.

Twee ongeïdentifiseerde manlike omstanders het bystand tydens die voorval verleen. ‘n Seun (12) is met hulp uit die see gered en ‘n seun (8) van Belhar, wie se pa vermis is, kon daarin slaag om self uit die see te kom.

Die seun (12) van Woodstock, die broer van die oorlede tiener, is in ‘n stabiele toestand per ambulans vir waarneming na ‘n hospitaal geneem.

Al die slagoffers betrokke is familie van mekaar. Hulle het privaatheid versoek.

Terwyl reddingsvaartuie op pad was na ‘n ander voorval is hulle deur lede van die publiek naby Sonwabe voorgekeer en na ‘n man (24) van Mannenberg wat deur omstanders uit die see gered is, op die strand geneem. Hy het nie ‘n polsslag gehad of asemgehaal nie.

Ten spyte van alle pogings om sy lewe te red, is die man dood verklaar.

Geregtelike doodsondersoekdossiere is vir beide oorledenes deur die polisie geregistreer.

Die oorskot van die oorledenes is in die sorg van patologiese dienste van die regering gegee.

Bron: NSRI

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel