Nuwe pienk kokaïenvariant in Kaapstad

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD. – ’n Nuwe dwelmmiddel is onlangs tydens ’n dwelmklopjag op die Kaapse Vlakte gevind.

Die polisie het toegeslaan na ’n anonieme wenk oor moontlike dwelmhandel op ’n perseel in Grassy Park. Hulle het ’n beweerde dwelmhandelaar (28) in hegtenis geneem en op tien sakkies pienk poeier beslag gelê.

Volgens kol. Dawood Laing, stasiebevelvoerder van Grassy Park-polisiestasie, het die verdagte tydens ondervraging erken dat dit pienk kokaïen is. Pienk kleursel word glo gebruik om oningeligte wetstoepassers nie snuf in die neus te gee nie.

Hy het gesê dit is van Spanje afkomstig en na sy wete vir die eerste keer in die Kaapstad-area versprei.

Een sakkie van die dwelmmiddel kan glo teen R800 tot R1 000 verkoop word. Meer welvarende dwelmgebruikers is die teikenmark.

Ashley Potts, voormalige direkteur van Cape Town Drug Councelling Centre, is van mening dat die pienk dwelmmiddel dodelik kan wees. Dit gaan vinniger deur die gebruiker se sisteem as gewone kokaïen en bevat ander middels soos Ecstasy, badsout en hallusineermiddels.

Bronne: IOL, Cape Town ETC