Met skole wat vir die Desembervakansie gesluit is, is baie ouers gefrustreerd oor tieners wat op die bank voor die televisie vasgegom is. Baie ander tieners verkies die donkerte van hulle toe kamers, met ‘n selfoon in die hand, bo die vars buitelug.
Hulle fisiese, geestelike en emosionele gesondheid kan benadeel word deur heeldag voor ‘n skerm te lê.
Hier is ’n paar wenke vir ouers wat sukkel om hulle tieners sinvol besig te hou:
1. Gee verskillende opsies van aktiwiteite waaruit hulle kan kies, bv. fietsry of swem. Moenie die bank as ’n opsie gee nie.
2. Skakel die Wi-Fi vir ’n sekere tyd elke dag af. Dit gaan jou tiener dwing om iets anders te doen.
3. Motiveer hulle om “skaduwerk” vir beroepe wat hulle na skool oorweeg, te doen.
4. Wees ‘n goeie voorbeeld vir jou tiener. Ouers wat heeldag uitgestrek op die bank lê en lui is, gaan tieners motiveer om dieselfde te doen.
5. Laat hulle vriende toe om te kom kuier. Fisiese gesprekke het baie meer voordele as aanlyn gesprekke. Dit gee hulle die geleentheid om sommer hulle kommunikasievaardighede te verbeter.
Een van die dae is hulle weer by die skool. Beplan die aktiwiteit en rustyd só dat julle kwaliteittyd saam spandeer voordat die jaar te besig raak.
Bronne: Taffetta, Seattle Times, NWF



