SUID-AFRIKA. – Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal voortaan wettiglik GKTV-kameras (geslotekring-televisiekameras) in tabakvervaardigers se pakhuise mag installeer.
Dit volg na ’n hofuitspraak deur die tussentydse regter Jacques Minnaar in die Noord-Gautengse hooggeregshof op 29 Desember 2023.
’n Groep gelisensieerde Suid-Afrikaanse sigaretvervaardigers het die SAID hof toe gevat in ’n poging om die installasie van die GKTV-stelsels te stuit.
Die SAID het vroeër bekend gemaak dat ’n beraamde R8 biljoen jaarliks as gevolg van onwettige handel met tabak verlore gaan.
Tabakmaatskappye het aangevoer die nuwe reël om kameras te wil installeer is ongrondwetlik en ’n betreding van privaatheid en eiendom.
Daar is in Junie 2023 deur die SAID gepoog om kameras in onderskeie pakhuise te installeer, maar hulle is gekeer om op die persele te kom.
Bronne: Daily Maverick, EWN



