GAUTENG. – Arno Geldenhuys (9) van Laerskool Protearif in Krugersdorp het op 1 Desember op ‘n kleinhoewe erge brandwonde in ‘n fratsongeluk met ‘n petrolkan opgedoen.
Die jong seun, wat tans in Chris Hani Barragwanath- akademiese hospitaal is, moet drie keer ‘n week teater toe gaan. Sy ouers is bekommerd, aangesien daar glo wurms in sy wonde opgemerk is wat skoongemaak moes word. Hy het ook reeds septisemie en nog sewe verskillende tipes infeksie opgedoen. Sy hart en longe kry swaar en sy hart moes volgens sy ma al geskok word om die ritme reg te kry.
Bernadette Geldenhuys, sê aan FiND iT haar jong seun het nou boonop longontsteking. Hy was wel vandag teater toe, maar dokters kon net aan sy bors en regterarm werk. Sy verduidelik verder sy nek het die diepste gebrand en is die seerste.
“Hy gaan dalk nie sy nek en regterarm kan gebruik nie. Dit gaan ‘n lang storie wees. Hy is nog in gevaar as gevolg van die septisemie en infeksies.”
Arno gaan weer Sondag en Dinsdag teater toe. Hy het reeds twee pinte bloed ontvang, maar gaan weer Saterdag ‘n bloedoortapping kry om hom voor te berei vir Sondag wanneer hy weer teater toe gaan.
Bernadette sê die teatersessies veroorsaak geweldige pyn, aangesien hy 40% brandwonde opgedoen het.
Die jong seun, wat deur sy ma as ‘n ongelooflike klein vegter met deursettingsvermoë beskryf word, is lief vir die buitelewe, plaaswerk, rugby en om met sy veldfiets te ry.
‘n Lang pad van mediese herstel lê nog vir Arno voor, daarom is ‘n BackaBuddy-profiel vir hom geskep.
Intussen ry Arno se ouers elke dag 140 km heen en weer om hul seun een keer per dag te besoek. Hulle bedank diegene wat hulle reeds ondersteun. Indien jy tot enige hulp vir Arno en sy gesin kan wees, kan sy ma per WhatsApp by 082 820 0179 gekontak word.
In ‘n vraag van Laerskool Protearif op sosiale media oor hoe dit met Arno gaan, het Bernadette die volgende plasing in die kommentaar gemaak:
Hy’s nog nie uit gevaar uit nie … gister se teater was uitgestel want sy longetjies en hart was te swak. Gistermiddag toe ons gekuier het met besoektyd toe kla hy daar is wurms in sy arm voor, ons kyk toe en wragtig sien ons 4 wurms, die surgeon was gebel en het die arm kom skoonmaak met nuwe verbande en met die plan dat hy vandag weer skraap in teater, ons was van 10 uur vandag by die hospitaal en ons mag toe hom gou sien voor hy moet teater toe moet gaan net om uit te vind ‘n teater is nie beskikbaar nie, hul moet dit in ICU doen. So ons wag maar om te hoor nou maar hul ICU het eers nie krag gehad nie, maar toe vind ons vandag uit hul doen daai ICU oor so hul het al die kinders nou in die ou Covid-ICU. So vandag se skraap is baie gevaarlik, want hy’t 7 tipes infeksies en septisemie opgedoen. En dis in ‘n saal waar ander kinders ook is. Ons weet ook sy nekspiere is ook weggebrand en sy lyfspiere. Ons weet nie of hy ooit dit op die oomblik kan gebruik nie, ons gee nie om nie hy moet net die deurmaak. Laas week het sy hart gespike toe moes hul shock om die ritme reg te kry. Maar dis regtig moeilik, want in die week en ‘n half is daar 4 van 6 kinders dood in daai saal waar Arno is en dis moeilik om te sien. Ons wag nou al amper 4 ure, want 2 uur is besoektyd. Dan sal ons hoor of hul nog wurms in sy wonde gekry het. Hy word nou deur die dag op ‘n spesiale machine suurstof gegee en dan in die aand is hy op die ventilator
https://www.backabuddy.co.za/arno-geldenhuys-5778330639259792823
Bronne: BackaBuddy en Facebook-plasing Laerskool Protearif
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



