VRYSTAAT. – Landdros Van Rensburg en sy vrou Hettie van Virginia het op Kersdag saam met speurders ‘n verdagte genaamd, Tshita Kohoako (26) wat glo in besit van dagga gevind is, agternagesit totdat hy vasgetrek en in hegtenis geneem is.
Kapt. Stephen Thankeng sê drie speurders van Virginia-polisiestasie het op Kersdag inligting van ‘n moord opgevolg. Hulle het ‘n verdagte man wat ‘n sak in Van Derselstraat in Glen Harmony dra, opgemerk.
Volgens Thakeng het die lede hulleself aan die man geïdentifiseer en gevra om hom te deursoek, waarop hy weggehardloop het. Die landdros en sy vrou, wat die gebeurtenis gade geslaan het, het ook ingespring en agter hom aangehardloop.
Die jaagtog het langs JJ Precon tot ‘n einde gekom, waar die verdagte vasgetrek is. Khoako het glo 54,99 kg dagga in sy besit gehad.
Die verdagte het Woensdag in die Virginia-landdroshof verskyn. Sy borgsaak is tot 3 Januarie 2024 uitgestel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



