Vermeende sindikaatleier, Rasta Kenosi, kry borg

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Rasta Kenosi, wat deur die inwoners van die Tosca-omgewing van veediefstal en vergiftiging verdink word, is vanoggend borg van R5 000 op drie onverwante aanklagte van poging tot moord in die Genyesa-landdroshof toegestaan. Hy is egter steeds in aanhouding vir ’n ander aanklag teen hom.

Volgens Naudé Pienaar, adjunk- hoofbestuurder van Agri-Noordwes, is die rede vir die borgtog glo ’n chroniese siektetoestand. Hy sê dat hulle geskok oor die nuutste verwikkelinge is, veral die borgbedrag in verhouding tot die graad van die aanklagte teen Kenosi.

“Die boodskap wat uitgestuur word, dat Kenosi nie ’n gevaar vir die omgewing en samelewing inhou nie, is absoluut onwaar,” het hy bygevoeg.

Agri-Noordwes is tans in gesprek met die aanklaer en betrokkenes oor die justisie se moontlike besinning en redenasie agter die borguitspraak.

FiNDiT het vroeër oor Ockert Goosen wie se beeste aanvanklik in die Bray-omgewing gesteel is, berig. Later is 44 van sy beeste na bewering deur Kenosi vergiftig nadat Goosen se pa hom gevra het om die beweerde veediefstal te staak.

Kenosi is op 14 Desember saam met medepligtiges in hegtenis geneem vir poging tot moord en ander aanklagtes. Tydens sy aanhouding is daar 32 beeste op Adolph Reyneke se plaas naby Tosca vergiftig.

Tewie Wessels het op Facebook gesê dat Kenosi volgens die sittende regter nie ’n vlugrisiko is nie en ook nie met die getuies sal inmeng nie.

“Dit is maar weereens ’n bewys hoe daar geen geregtigheid vir ons sal geskied in die huidige bestel nie. Die boere van Tosca sal die spreekwoordelike laer moet trek.”

Rasta Kenosi bly in aanhouding tot die uitspraak rakende ’n klag van kwaadwillige saakbeskadiging teen hom.

Bronne: Agri-Noordwes, Facebook