NOORD-KAAP. – Nadat ‘n vrou (43) gister haar lewe in ‘n skietvoorval in Kimberley verloor het, is ‘n verdagte (47) vanoggend omstreeks 09:50 in verband met die misdaad vasgetrek.
Volgens kol. Cherelle Ehlers is die man in ‘n woning in Beaconsfield in Kimberley in hegtenis geneem en die polisie het op ‘n vuurwapen beslag gelê.
Die verdagte sal binnekort vir moord in die hof verskyn.
FiND iT het voorheen soos volg berig:
KIMBERLEY. – Kimberley-inwoners is geskok nadat ’n vrou na bewering helder oordag in die straat in Beaconsfield geskiet is.
Gerugte oor die skietery en dat ’n kind moontlik ontvoer is, het vanmiddag op WhatsApp-groepe in Kimberley die rondte gedoen.
Kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het die voorval aan FiND iT bevestig. “Die polisie ondersoek die dood van ’n vrou na ’n vermoedelike skietvoorval. Die polisie het omstreeks 13:30 op die toneel in Mainstraat, Kimberley, opgedaag. ‘n Vrou is in haar kop en skouer geskiet. Sy is in die hospitaal aan haar beserings dood. ’n Tienermeisie is ongeskonde.”
Ehlers sê ’n huishoudelike bakleiery het moontlik tot die skietery gelei.
Die verdagte, wat aan FiND iT bekend is, het in ’n silwer Polo gevlug.
Enigiemand met inligting kan die polisie by 08600 10111 of deur die MySAPS-toep, kontak. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



