Dit gaan goed met drie kinders wat by ouers verwyder is

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Dit gaan goed met die drie minderjarige kinders van Klerksdorp wat uit noodsaak uit die sorg van hul ouers, die pa (38) en die ma (21), verwyder is.

Wayne van Onselen, van Unchain Our Children, het gister aan FiND iT gesê die kinders floreer met die liefde en aandag wat hulle tans in ‘n plek van veiligheid ontvang.

Hulp vir die drie kinders stroom in, terwyl hul ouers steeds in aanhouding is nadat hulle Dinsdag vir ‘n formele borgaansoek in die hof verskyn het.

Van Onselen beskryf ‘n huis waarin geen kind grootgemaak moet word nie. ‘n Lid van die publiek het die kinders se omstandighede aangemeld, waarna Unchain Our Children saam met ‘n maatskaplike werker en die polisie na die huis toe is.

“Die doel van alle situasies waarin slagoffers verkeer is om die siklus te breek,” sê Van Onselen.

Van Onselen sê daar is ‘n veilige plek op hul Facebook-blad waar aanmeldings gemaak kan word. Hy moedig enigiemand wat vermoed of weet van voorvalle waar kinders volgens wet negatief beïnvloed word om dit aan te meld.

Die name van die ouers is aan FiND iT bekend, maar word ter beskerming van die kinders verswyg.

Kapt. Aafje Bothma het aanvanklik sake van beweerde verkragting en kinderverwaarlosing aan FiND iT bevestig en gesê die ondersoek duur voort.

Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG, het ook die beweerde misdaad bevestig.

Bronne: Unchain Our Children, SAPD en NVG

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel