Chris Else het Donderdagaand met ‘n emosionele videoplasing gesê hoe dit met hul babadogter Clara gaan. Hy sê sy ondanks die breinbloeding is sy tans stabiel en tuis. Sy moet vir die volgende ses weke vir simptome soos naarheid, slaperigheid en disoriëntasie gemonitor word. Sulke simptome sal tekens wees dat daar drukking as gevolg van die bloeding op haar brein is. Intussen is daar nie veel wat die dokter vir haar kan doen nie, maar hy is van mening dat sy volkome sal herstel.
Else sê Woensdag was die slegste dag wat hy nog ooit ervaar het en hy was buite homself. Hy verduidelik die kleinding, wat in haar loopring was, het vooroor by drie trappe afgeval en haar kop gestamp. Sy is na ‘n hospitaal gehaas waar ‘n CT-skandering bloeding op die brein bevestig het. Van daar is sy na ‘n ander hospitaal oorgeplaas.
‘n Pediatriese neurochirurg wat met trauma werk het verduidelik die besering kan in drie scenario’s uitspeel. Hulle is egter vol hoop dat die bloeding natuurlik deur die liggaam geabsorbeer sal word en dat Clara geen effek van die ongeluk sal oorhou nie.
Else sê hy het sedert sy terugkeer van optredes in Paraguay in Suid-Amerika nog nie ‘n oog toegemaak nie.
Clara, wat middel Februarie met ‘n noodkeisersnit gebore is, is volgens Else al vele keer met die ingryping van die Here gehelp.
Die egpaar bedank almal wat vir Clara se gesondheid bid en vir elke oproep en boodskap wat hul ter ondersteuning ontvang. Hulle gaan vir eers op Clara fokus, maar Chris sal steeds Saterdag op Dullstroom optree en van tyd tot tyd op sosiale media sê hoe dit met haar gaan.
Bron: Chris Else
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



