NOORD-KAAP. – ‘n Beweerde dwelmhandelaar (44) se 5,885 kg besending dagga, sowel as vuurwapens en ammunisie, word ná beslaglegging in die Upington-polisie se bergplek vir bewysstukke gehou.
Sers. Omphile Masegela sê die beslagleggings is Maandag tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie deur verskeie eenhede gemaak.
Inligting is ontvang van ‘n koerierdiens wat ‘n besending dwelms na Upington vervoer. Die voertuig is gestop en deursoek, waartydens die dagga ontdek is. Die ondersoek het die polisie verder na ‘n plaas op Kenhardt, vanwaar die besending na bewering kom, gelei.
Met deursoeking van die perseel het die polisie op verpakkingsmasjiene, ligte, daggaplante, geprossesseerde dagga, hallusinogene sampioene (magic mushrooms), verpakkingsmateriaal, skale, kontant en kweekruimtes afgekom. Met verdere deursoeking is vuurwapens en ammunisie, waarvoor die verdagte geen wettige dokumente kon verskaf nie, ontdek.
Die polisie het op ‘n totaal van 302,395 kg geprossesseerde hidroponiese dagga, 872 daggaplante, agt gewere en twee rewolwers, ammunisie en verskeie ander bewysstukke beslag gelê.
Die man is vir dwelmhandel en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



