Die emmerskoplys

Deel hierdie storie / Share this story

’n Onderhoud met skrywer Heléne de Clercq.

Heléne de Clercq se kinderboek, Die emmerskoplys, is ’n boeiende avontuurverhaal vol humor en aksie. Bekroonde illustreerder Johann Strauss het vir die prettige illustrasies gesorg.

Pliggie Stef en rabbedoe Katerien sug oor die lang skoolvakansie wat voorlê. Maar toe hulle hul weer kom kry, maak hulle saam met vergeetagtige Ouma Katie en Krummel, die Great Dane, ’n onvergeetlike warmlugballonvaart mee. Maar ai, mens dink tog nie jy klim net woerts-warts in ’n warmlugballon en daar gebeur nie iets rampspoedigs nie!

Ek het vir Heléne, ’n oudonderwyser en nou sleutelkliëntbestuurder by NB-Uitgewers, ’n paar vrae gevra oor haar lekker lewendige en moderne storie:

Wat het jou geïnspireer om Die emmerskoplys te skryf?

Ek was ná my onderwysstudies vir ’n jaar lank twee seuns se au pair in Oostenryk. Hulle Oma Swana het twee jaar gelede op 94 saam met een van hulle met ’n valskerm uit ’n vliegtuig gespring. Verlede jaar het ’n vriendin van my se ma, Ouma An, op haar 80ste verjaardag op ’n Harley Davidson gery. Met Die emmerskoplys wil ek kinders aanmoedig om hulle lewens voluit te leef en hulle drome na te jaag. Dis ook waarom een van my hoofkarakters ’n waaghalsige ouma met ’n lys vol doendinge is.

Jou woordgebruik het my opgeval. Kan jy meer hieroor vertel?

Ek het gaan kyk watter 250 woorde die meeste in die grondslagfase gebruik word en dit subtiel in die avontuur ingewerk. Wanneer kinders die boek lees, word hierdie woorde vasgelê sonder dat hulle agterkom dat hulle hersiening doen. Hulle leer ook op ’n speelse wyse interessante feite oor o.a. dolfyne, lugballonne, nanotegnologie en Mosambiek.

Die boek kom met baie ekstras. Brei asseblief daaroor uit.

Ja, alhoewel dit heerlike vakansieleesstof is, vorm dit deel van die Best Books vir klaslees-reeks vir Graad 5 Afrikaans EAT-lesers. Agterin is kontekstuele vrae om gesprekke uit te lok en leesbegrip te toets. Daar is ook gratis aflaaibare kreatiewe skryfprojekte (kwartaal 3) vir graad 4’s en 5’s hier beskikbaar.

Die emmerskoplys is beskikbaar by boekhandelaars en kos R150,00.

Lees ook Louise Viljoen se indruk oor The buck that burries its poo deur Quinton Coetzee hier.