Bejaarde man tydens beurtkrag op kleinhoewe doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Arrie Willem Smit (70) van Mamusa-kleinhoewe buite Schweizer-Reneke is Vrydagoggend omstreeks 03:00 saam met sy vrou, Riekie Smit (71) deur twee verdagtes in hul huis oorval.

Kapt. Sam Tselanyane sê die vrou kon haar seun vir hulp kontak.

Hy het met aankoms op die toneel sy ma geskok aangetref en het haar uit die slaapkamer waar haar man bewegingloos op sy rug gelê het, weggeneem.

Volgens die vrou het sy van die badkamer af gekom toe sy ‘n flitslig in die gang naby die slaapkamer sien. Sy het dit glo geïgnoreer, waarna ‘n tweede flitslig verskyn het. Sy het hierna glo gehoor hoe die veiligheidshek teen die muur vasslaan en het die oorledene, wat geslaap het, wakker gemaak en van persone in die huis ingelig.

Die oorledene het volgens haar wakker geword en op die bed gesit. Sy het vir ‘n verdagte gevra wat hulle soek, waarop een wat met ‘n balaklawa vermom was, vir haar met sy vinger voor sy mond gewys het om stil te bly. Hierna het sy glo twee skote gehoor, waarna die verdagte dadelik omgedraai en weggehardloop het.

Die vrou het na die venster gehardloop en om hulp geskree.

Toegang is deur ‘n elektrisiteitsheining verkry wat tydens beurtkrag gesny is, waarna die verdagtes die diefwering voor ‘n slaapkamervenster oopgebuig het.

Nadat bure gemobiliseer is, is twee mans wat in die omgewing van die kleinhoewe gevind is, onderskeidelik 37 en 42 jaar oud, vir ondervraging ingeneem.

Die oorledne het drie skietwonde aan sy bolyf opgedoen. Drie leë .22-doppies en ‘n boutsnyer is op die toneel gevind waarop die polisie beslag gelê het.

Die ondersoek duur voort.

Bron: SAPD

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel