OOS-KAAP. – Die liggaam van ’n sesjarige meisie is versteek onder ’n bed gevind nadat sy Donderdag in NU 13 Inyibiba naby Malantsane as vermis aangemeld is. Sy was sedert Woensdag vermis.
Die polisie is Donderdag na die area ontbied waar die gemeenskap self na die kind begin soek het. Met hul aankoms op die toneel is hulle deur vyandigheid van die gemeenskap begroet.
Nadat die polisie die eiendom binnegegaan het, is ’n ernstige beseerde naakte man buite die huis aangetref. Hy het later aan sy beserings beswyk.
Tydens die ondersoek in die huis is die liggaam van die vermiste sesjarige meisie toegedraai in plastiek onder ’n bed gekry.
Die vermoede bestaan dat die meisie verkrag is, maar dit moet deur ’n nadoodse ondersoek bevestig word.
Lt. genl. Momthetheledi Mene, provinsiale kommissaris, het haar medelye teenoor die meisie se familie uitgespreek en die gemeenskap gemaan om nie die reg in hulle eie hande te neem nie.
Bronne: SAPD, Twitter



