SUID-AFRIKA. – Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n verklaring uitgereik waarin hulle voorspel dat swaar reën vanaf vandag tot Dinsdag oor die oostelike dele van die land verwag kan word.
Alhoewel dit vir boere en die landbousektor goeie nuus is, is daar ’n beduidende kans vir vloede en rivieroorstromings wat sekere provinsies kan ontwrig.
Die Wes-Kaap en Oos-Kaap sal nie deur die verbygaande weersisteem geraak word nie. Sondag sal die laagdruk oor die noordelike dele van die Noord-Kaap die atmosfeer onstabiel maak. Gedurende die dag sal swaar reën na die Noordwes, Vrystaat, Limpopo, Gauteng en Mpumalanga versprei. KwaZulu-Natal sal tot ’n mindere mate beïnvloed word.
Swaar reënval sal steeds Maandag in die provinsies plaasvind. Motoriste en voetgangers word gewaarsku om waaksaam te wees en nie riviere en strome wat reeds oorspoel is, oor te steek nie. Teen Dinsdag sal die reënval verminder namate die stelsel verder oos beweeg het.
Bronne: Suid-Afrikaanse Weerdiens, Twitter



