MACLEAR, OOS-KAAP. – Brig. Asogran Naidoo, waarnemende distrikskommissaris, het inwoners van Maclear geprys vir hulle vinnige reaksie wat daartoe gelei het dat 220 gesteelde skape ter waarde van R175 000 teruggevind is.
Na bewering het ’n boer by Ntushuntush Woensdagnag om 22:00 haar honde hoor blaf. Sy kon deur die venster sien hoe ongeveer sewe mense ’n trop skape en lammers uit die kraal lei.
Die polisie is dadelik ontbied, waarna die verdagtes oomblikke later ’n paar kilometer van die toneel opgemerk is. Hulle het daarin geslaag om te vlug, maar het die vee agtergelaat.
Relevante merke op die skape het bevestig dat hulle aan die spesifieke boer behoort. ’n Saak van veediefstal is vir verdere ondersoek geopen.
“Al het die verdagtes daarin geslaag om te vlug, is ons trots op die feit dat die vee teruggevind is,” het brig. Naidoo bygevoeg.
Bronne: SAPD, Twitter



