LIMPOPO. – Esther Michavi (42) is Woensdag in die oggendure deur haar beweerde kêrel in ‘n voorval van geslagsgebaseerde geweld in die Nwakhuwani-woonbuurt “doodgesteek”. Die vriendin by wie Michavi tydens die voorval gewoon het, moes glo ook vlug en ‘n weldoener is verskeie kere gesteek.
Brig. Hlulani Mashaba sê Michavi en haar vier kinders het by haar vriendin gewoon nadat sy huishoudelike probleme met die verdagte ondervind het.
Na bewering het die verdagte toegang deur ‘n deur van die huis, wat nie na behore gesluit was nie, gekry.
Hy het glo die slagoffer met ‘n skerp voorwerp gesteek en probeer om die vriendin wat haar wou help ook te steek. Sy het na buite gevlug om hulp te ontbied, waarna ‘n weldoener wat die oorledene te hulp gesnel het ook verskeie kere gesteek is.Michavi is op die toneel dood verklaar en die weldoener is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem.
Die verdagte (43), wat van die toneel gevlug het, het glo die aand in Giyani probeer om sy eie lewe met ‘n mes te neem. Hy is in hegtenis geneem na hy gehospitaliseer is en is aangehou. Hy sal vandag vir moord en poging tot moord in die hof verskyn.
Die polisie het op die mes wat vermoedelik gebruik is om die misdade te pleeg, beslag gelê.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



