BLOEMHOF. – Pule Kgosimore het twee maal lewenslange tronkstraf vir die verkragting van twee susters gekry. Hy is ’n addisionele 15 jaar opgelê vir die verkragting van ’n ander vrou en vyf jaar vir huisbraak.
Henry Mamotothame, Noordwes-woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Kgosimore was op parool uit nadat hy straf vir ’n ander verkragting uitgedien het. Hy is op 8 Februarie 2019 weer in hegtenis geneem.
Dit het gevolg na ’n verkragting wat ’n paar dae vantevore in Boitumelang naby Bloemhof plaasgevind het. Die verdagte het by ’n huis ingebreek waar hy twee susters, onderskeidelik 27 en 37 jaar oud, gedreig en herhaaldelik verkrag het.
Na sy laaste arrestasie het DNS-toetse hom aan ’n verkragtingsaak van 2017 verbind waar ’n 58-jarige vrou verkrag is.
Kgosimore het onskuldig op alle aanklagte teen hom gepleit, maar hy is steeds skuldig bevind. Sers. Pule Morake van die SAPD het die gemeenskap gewaarsku om hierdie feestyd ekstra waaksaam te wees, aangesien misdaad oor Kerstyd gewoonlik styg.
Bronne: NVG, IOL, Twitter



