JOHANNESBURG. – Die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiedepartement (JMPD) het AO Levonne Jonas van die bywet-bestuurseenheid ’n spoedige herstel na ’n skietvoorval Maandag toegewens.
Jonas het ’n vrou bygestaan wat glo deur haar kêrel by die N1-Suid Olifantsfonteinweg-oprit in Midrand aangerand is.
Na bewering het Jonas gestop toe hy die aanranding waargeneem het. Hy het homself as ’n polisiebeampte wat van diens af is, voorgestel en probeer om by die aanranding in te gryp. Die kêrel het hom egter oorval, ontwapen en geskiet. Daarna het die man weggery en Jonas en die vrou op die grond agtergelaat.
Jonas is na die hospitaal gehaas nadat hy skietwonde aan die linkerarm, regterbeen en kop opgedoen het. Hy is tans in ’n stabiele toestand.
Lede van die Midrand SAPD het die vrou ondervra en later inligting ontvang dat die verdagte by die Tembisa-SAPD gestasioneer is. Hy is onmiddellik in hegtenis geneem en van aanranding en poging tot moord aangekla.
Bronne: JMPD, Twitter, Facebook



