ArcelorMittal het met die feesseisoen op die voorstoep ‘n verklaring gemaak oor drie van sy aanlegte wat gaan sluit. Ongeveer 3 500 deeltydse sowel as permanente werkers word hierdeur geraak.
Die langstaal-aanlegte wat gaan sluit, is Newcastle, Vereeniging en Arcelor Rail and Structures. Konsultasie met belanghebbendes moet nog plaasvind.
Beurtkrag, Transnetkostes en ‘n “afname, onvoorspelbaarheid en onbetroubaarheid” in plaaslike infrastruktuurontwikkeling word as redes aangevoer.
Solidariteit het sy skok met die besluit uitgespreek en wag vir ontvangs van die art. 189(A)-kennisgewing om met lede te vergader en hulle deur prosesse te ondersteun.
Solidariteit het die volgende verklaring vrygestel:
ArcelorMittal se Kerstyd-aankondiging oor afleggings skok – Solidariteit
Solidariteit neem met skok kennis van ArcelorMittal SA se aankondiging dat hulle direksie en bestuur besluit het om die drie langstaal-aanlegte te sluit.
Die besluit raak die poste van ongeveer 3 500 deeltydse en permanente werknemers by die drie aanlegte by Newcastle, Vereeniging en by Arcelor Rail and Structures.
Die redes wat vir hierdie drastiese besluit aangevoer word, sluit in Eskom se volgehoue beurtkrag, Transnet se hoë koste en die onbetroubaarheid, onvoorspelbaarheid en afname in plaaslike infrastruktuurontwikkeling.
Tog is dié hindernisse niks nuut of onbekend aan Solidariteit of ander partye wat by Amsa betrokke is nie.
Die tydsberekening van die skokaankondiging kan dus met reg bevraagteken word. Altesaam 3 500 werknemers en hulle gesinne gaan nou ʼn onseker Kersseisoen tegemoet. Amsa dui in hulle verklaring aan dat die implementeringsplan om die aanlegte af te skaal en te sluit nog nie gefinaliseer is nie en dat talle konsultasies met belanghebbendes nog moet plaasvind.
Amsa se gesindheid in die geval van aankondigings van so ʼn ernstige aard was in die verlede swak, en hierdie aankondiging blyk ʼn herhaling daarvan te wees. ʼn Konsultasieproses met kernpartye wat deur so ʼn besluit geraak word, insluitend vakbonde, moes ongetwyfeld so ʼn aankondiging voorafgegaan het.
Die laaste weke van 2023 kon gebruik word om oplossings of alternatiewe te bespreek voor ʼn finale besluit daaroor geneem is en werknemers van die besluit in kennis gestel is.
Terwyl ons wag vir die formele artikel 189(A)-kennisgewings wat dié soort herstrukturering voorafgaan, is dit ook duidelik hoe die regering se wanbestuur by staatsondernemings soos Eskom en Transnet, en die regering se onvermoë om ekonomiese groei te bevorder, slagoffers eis.
Dit word immers ook as redes aangevoer waarom 3 500 onskuldige werknemers moontlik werkloos gelaat gaan word, en dit gebeur in ʼn tydperk wat die werkloosheidskoers in Suid Afrika reeds die hoogste ter wêreld is.
Solidariteit sal ná ontvangs van die art. 189(A) kennisgewing met lede begin vergader en hulle ondersteun deur al die prosesse wat mag volg.


Bronne: ArcelorMittal SA en Solidariteit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



