Brand-moordverhoor volgende jaar voortgesit

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Danie Brand (83), Breggie (73), sy vrou en Elzabie (54) hul dogter, het op 26 Julie 2020 vermis geraak. Hul liggame is dae later gevind. Vier verdagtes – Donald Seolesang (23), Tshepo Visagie (39), Kgomotso Mpumlwana (46), en Tshepaone Melato (22) – se verhoor in die hooggeregshof wat in Kimberley in sitting is, is tot 24 April 2024 verdaag.

Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder vir die Noord-Kaap, sê die verdagtes, drie mans en ‘n vrou, kom op aanklag van drie moorde, roof met verswarende omstandighede en ontvoering voor.

Mpumlwane het in die Hartswater-distrikshof vir borg aansoek gedoen. Dit is suksesvol geopponeer terwyl die ander beskuldigdes hul borgaansoek laat vaar het.

Die hofsaak het in 2022 begin en die staat het reeds hul saak gesluit. Die verdediging het Seolesang laat getuig. Gedurende kruisverhoor is gehoor die beskuldigde het van een woonbuurt na ‘n ander gery om die slagoffer se motor wat vol bloed was, vermoedelik van die drie slagoffers, te was.

Voorts moes die hof hoor hoe die beskuldigdes die slagoffers se eiendom, onder andere ‘n skootrekenaar, aan lede van die gemeenskap verkoop het.

Die beskuldigdes sal in die Kimberley-gevangenis aangehou word totdat hul saak afgehandel is.

FiND iT het voorheen soos volg berig:

Die gesin is op 26 Julie tydens ‘n plaasaanval ontvoer.

“Die plaashuis van mnr. Danie Brand (83) en sy vrou Breggie (73) is geplunder en drie voertuie is gesteel, waarvan twee teruggevind is. Die egpaar se dogter, Elzabie (54) wat by hulle gekuier het, is saam ontvoer. Die groep het met haar motor gevlug.”

“Gedurende die nag is die voertuig met vier insittendes by Pudimoe, op die pad na Vryburg, voorgekeer. Drie verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl die vierde, ’n vrou, tans nie met die misdaad verbind word nie.”

“Die verdagtes het wetstoepassers na een van die persone sy liggaam geneem en verklaar dat die ander twee se liggame langs die pad versteek is.”

Hulle liggame is in die bosse by die Takaneng Village gevind. Die Hartswater-plaasmoord het landswyd opspraak gewek en die boeregemeenskap het met trekkers na die landdroshof opgeruk.

Bron: NVG Noord-Kaap

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel