KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes is Dinsdagmiddag na ‘n vermeende besigheidsroof in Blackburn dood, terwyl twee slagoffers beseer is.
Reaction Unit South Africa sê verskeie oproepe oor ‘n skietvoorval is ontvang.
Na bewering het vyf rowers glo ‘n algemene handelaar verlaat waarna daar lukraak op ‘n huiseienaar en sy familielede op dieselfde perseel geskiet is. Die handelaar is beseer toe hy glo met ‘n pistoolkolf geslaan is. Die huiseienaar (41) is in die bors en regterdy geskiet, terwyl sy neef (33) in die onderlyf en been geskiet is. Hy het met sy 9 mm-handwapen teruggeskiet en twee verdagtes getref.
Een van die verdagtes wat raakgeskiet is en ineengestort het, is glo deur gemeenskapslede na ‘n rivier gesleep waar hy doodgemaak is. ‘n Band is glo oor sy kop gesit en daar is gepoog om hom aan die brand te steek. Hy is dood aangetref.
Die beseerdes is op die toneel gestabiliseer voordat hulle per ambulans na ‘n hospitaal vervoer is.
‘n CCTV kamera-opname wys hoe die oorledene se makkers sy sakke deursoek en met sy handwapen vlug voordat lede van die gemeenskap opdaag.
Lede van die gemeenskap het te voet na die ander verdagtes gesoek. Een van die verdagtes het homself glo aan ‘n privaaat sekuriteitsbeampte oorgegee. Die beampte kon daarin slaag om ‘n handwapen by hom af te neem voordat hy doodgeslaan is.
‘n Derde verdagte het op ‘n Fidelity ADT-reaksiebeampte in ‘n voertuig buite die Cornubia-winkelsentrum geskiet terwyl hy van die toneel gevlug het. Die beampte het teruggeskiet en die verdagte verskeie keer getref. Hy het op die toneel gesterf. Twee vuurwapens is in sy besit gevind.
Nog twee verdagtes het in ‘n silwer Toyota Corolla van die toneel gevlug en word steeds gesoek.
Bron: Reaction Unit South Africa.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



