Drie vir ‘besigheidsinbraak’ in Kimberley vasgetrek

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Drie mans, onderskeidelik 26, 32 en 47, is na ‘n beweerde besigheidsinbraak wat Maandag by Waltons Bidvest plaasgevind het, vasgetrek.

Sers. Gopane sê misdaadvoorkomingslede en Operation Wanya Tsotsi het die verdagtes in Galeshewe opgespoor. Die drie mans het glo van die gesteelde items in hul besit gehad. Dit het hulle met die besigheidsinbraak verbind, waarna hulle in hegtenis geneem is.

Ses drukkers, ‘n lamineermasjien, vier bluetooth luidsprekers en ‘n selfoon ter waarde van R46 000 is teruggevind.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Marcelle van Vuuren van Waltons Bidvest sê die inbraak het omstreeks 01:00 plaasgevind waarna hy en die alarmdienste die inbrekers net-net gemis het. Wanya Tsotsi is vir hulp genader en Van Vuuren was persoonlik saam met hulle na die verdagtes op soek. Beeldmateriaal van die verdagtes was beskikbaar. Hulle is een vir een opgespoor en laatmiddag reeds aan die polisie oorhandig.

Die verdagtes het toegang verkry deur die deur oop te breek. Van Vuuren sê hulle soek nog na twee van die verdagtes. Dit is die tweede keer wat hy van Wanya Tsotsi se dienste gebruik gemaak het.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel