LEES OOK: DBV red vyf mishandelde robbe uit Houtbaai-hawe
Nicaragua se Sheynnis Palacios is as Mej. Heelal 2023 gekroon, met Thailand in die tweede plek en Australië in die derde plek. Die finale rondte van hierdie kompetisie is Saterdag 18 November by die José Adolfo Pineda-arena in San Salvador, El Salvador, gehou.
Die 23-jarige skoonheidskoningin het geskiedenis gemaak, aangesien dit die eerste keer is dat Nicaragua die kompetisie gewen het. Palacios is gekroon deur die vorige Mej. Heelal, R’Bonney Gabriel, wat die kroon in 2022 gedra het. Mej. Thailand, Anntonia Porsild, was die eerste naaswenner, gevolg deur Mej. Australië, Moraya Wilson, as die tweede naaswenner. Suid-Afrika se Bryoni Govender is in die Top 20 geplaas, maar het nie die Top 10 gehaal nie.
Vanjaar was die eerste keer dat die Mej. Heelal-organisasie getroude vroue en moeders toegelaat het om aan die internasionale kompetisie deel te neem. Camila Avella van Colombia en Michelle Cohn van Guatemala was die eerste getroude vroue en moeders om mee te ding.
“Ek wil graag vir Sheynnis gelukwens en haar sterkte toewens met haar bewind,” het Govender gesê. “Dit was ‘n eer om die Miss Universe-verhoog met haar te deel, asook al die mededingers wat inspirerend was. Ek hoop dat al het ek nie ‘n plasing gekry nie, ek Suid-Afrikaners trots gemaak het. Dit is ’n ervaring wat ek nooit sal vergeet nie.” Govender het ook Suid-Afrikaners bedank vir hul ondersteuning tydens haar reis: “Die ondersteuning was oorweldigend. Ek sien uit daarna om na Suid-Afrika terug te keer.”
#MissUniverse #Nicaragua #Afrikaans #Nuus #Newsfeed
Bronne gebruik: TimesLive; Eyewitness News; The South African.