SASOLBURG, VRYSTAAT. – Manie Jackson, SA-sanger, se vrou, Christal Zee Jackson, is gedurende die naweek by hul plaaslike SPAR in Vaalpark by Tharina-sentrum, deur booswigte oorval toe sy uit hul voertuig geklim het. Sy is daarna aangerand.
Volgens ‘n plasing op sosiale media sê Jackson hulle het gestop en sy het uit die voertuig geklim, toe twee verdagtes haar gryp en slaan. Jackson self het gesukkel om sy veiligheidsgordel los te kry om sy vrou te hulp te snel.
Sy vrou is teen die kop, bo-arm en ribbes geslaan. Sy dogter se handsak met beursie, selfoon en ID het in die slag gebly. ‘n Man wat gereeld vir Jackson werk, het aangehardloop gekom, waarna die booswigte gevlug het.
Jackson vertel die insident as waarskuwing en sê hy sal eerder in die toekoms Vanderbijlpark of Sasolburg toe ry vir inkope.
Volgens Johan Oberholzer van VCN (Vaal Community Navigator News) het Arrie Coetzee van Public Eye gesê die betrokke voorval kon tot dusver nie deur kamerabeeldmateriaal of getuienisse bevestig word nie.
Coetzee, betrokke in die veiligheidsektor in die Vaaldriekhoek, het enige ooggetuies gevra om na vore te kom sodat inligting verkry kan word en die verdagtes sodoende geïdentifiseer kan word.
Lees Manie Jackson se volledige plasing hier onder:
Waarskuwing…..!!!!!
Tharina Sentrum, Vaalpark….
Julle sal julle sekuriteit MOET opknap!
Vanmiddag, so net na 15:00, het ons gestop by ons plaaslike Spar, vir n paar goedjies, en toe my vrou uitklim, is sy dadelik deur 2 swartmans gegryp, en geslaan, terwyl ek nog spook en spartel om my veiligheidsgordel los te kry (jou vingers verander dan mos in piesangs), om om die bus te hardloop, en hulle het haar geslaan, teen haar kop, haar bo-arm en haar ribbes…. Een van die swart mans wat gereeld vir my kom werk, het dit gesien, en aangehardloop gekom, en op hulle geskree. Hulle het my dogter se handsak, met beursie, selfoon en ID dokument, van haar lyf af gegryp, en gehardloop.
Geen karwag was in sig, en hierdie is nie die eerste keer dat dit gebeur nie.
Hulle het n ruk terug, my ou Mercedes-Benz (1987), probeer steel, terwyl ons in die Spar was, maar gelukkig het hy nog n “gear-lock” op, en kon hulle dit nie regkry nie. Ek weet van n vrou wat so ruk terug OOK daar aangerand is, en een van my beste vriende, is so paar jaar gelede daar “ge-hi-jack” en het in die hospitaal opgeëindig met 27 meswonde….
Ek gaan beslis nie gou weer daar stop om iets te koop nie, tot daar ordentlike sekuriteit aangestel word nie.
Dan doen ek eerder die moeite om Vanderbijlpark of Sasolburg toe te ry, nie dat dit daar veiliger is nie, maar ek voel ons klein-dorpie gemeenskap, verdien darem om veiliger te voel, siende dat dit die enigste groot winkel naby ons is……
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel