DA Persverklaring
Die Demokratiese Alliansie (DA) neem kennis van die plasing van John Block op parool, gebaseer op die feit dat hy voordeel getrek het uit die spesiale kwytskelding van vonnisse van 2019, 2020 en 2023 en sodoende sy minimum aanhoudingstydperk vervroeg het.
Ons is skepties oor die departement van korrektiewe dienste se spesiale program vir kwytskelding van vonnisse wat duidelik in Block se guns gewerk het, net soos dit ook voorheen in Jacob Zuman se guns gewerk het. Ons kan nie help om te wonder of hierdie skema eintlik bedink is met die doel om ANC-kaders uit die tronk te kry nie.
Block se onlangse aandrang om vir borgtog aansoek te doen in die bedrogsaak van die geestesgesondheidshospitaal waarop hy in Mei vanjaar in hegtenis geneem is, terwyl hy steeds sy oorspronklike vonnis uitgedien het, maak nou baie meer sin. In dié verband word hy en sy medebeskuldigde daarvan beskuldig dat hulle ‘n tender van R51 miljoen aan ‘n ingenieursmaatskappy vir die bouprojek vir ‘n geestesgesondheidshospitaal toegeken het.
Die DA het troos daarin dat alhoewel Block uit die tronk is, hy nie vry is van verdere klagtes en aanspreeklikheid nie.
Die geestesgesondheidshospitaal is aanvanklik vir R290 miljoen begroot, maar bouwerk het vir 13 jaar gesloer en koste het tot meer as R2,1 miljard gestyg. Meer as 15 jaar later, is die hospitaal ‘n monument vir korrupsie en werk dit steeds nie op volle kapasiteit nie.
Terwyl Block se bedrogsaak vir die konstruksie van die geestesgesondheidshospitaal slegs op ‘n sekere tender betrekking het, glo ons dit is die begin daarvan om die groter geesteshospitaalskandaal te ontrafel. Ons is ook hoopvol dat daar uiteindelik geregtigheid sal wees vir alle pasiënte met geestessiektes, wat van behoorlike geestesgesondheidsorgdienste ontneem is weens die lang tyd tot voltooiing en volle operasionalisering van die geestesgesondheidshospitaal, grootliks as gevolg van korrupsie.
Die DA sal die saak van John Block en die geestesgesondheidshospitaal fyn dophou.
Medianavrae
Harold McGluwa, LPW
DA Noord-Kaap Provinsiale Leier
082 440 1779
Shelley de Witt
Noord-Kaap Mediabestuurder
082 847 1387
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



