VRYSTAAT. – Drie verdagtes is deur ‘n gesamentlike span van verskeie spesialispolisie-eenhede vir Maandag se diefstal van vuurwapens by die Petrusville-polisiestasie in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.
Lt.kol. Tebogo Thebe sê die span het inligting opgevolg waarna twee verdagte mans naby die R70 tussen Senekal en Rosendal vasgetrek is. ‘n R5-geweer en 27 rondtes ammunisie is teruggevind.
Thebe sê verdere ondersoek het die span na Marquard geneem waar nog ‘n manlike verdagte in hegtenis geneem is. Twee haelgewere en ‘n Z88-pistool is hier teruggevind.
Wapens wat teruggekry is, is dié wapens wat by die polisiestasie gesteel is, waarvan die Valke die ondersoek behartig.
Die diefstal is tydens skofruiling otdek toe oordrag van alles wat op die stasieperseel is van een skof na die ander oorgeteken moes word. Die skof wat aan diens kom, moet die items waarvoor hulle teken kontroleer alvorens hulle amptelik in polisieregisters vir ontvangs daarvan teken. In so ‘n oordrag wat met elke skofruiling plaasvind, word byvoorbeeld vir ontvangs van gevangenes, voertuie en wapens wat in goeie orde is deur twee verantwoordelike kliëntedienssentrumbevelvoerders oorgeteken.
Interne ondersoek na die omstandighede van die voorval is onderweg. Daar sal ook vasgestel word of enige nalatigheid betrokke was.
Die drie verdagtes sal Maandag in onderskeidelik die landdroshof op Senekal, Petrusville en Marquard op aanklagte van diefstal en die onwettige besit van staatvuurwapens verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



