Motordief kry ses jaar direkte tronkstraf

Deel hierdie storie / Share this story

MOKOPANE, LIMPOPO. – Shane Mthombeni (35) is gister in die Mokopane-streekshof tot ses jaar direkte tronkstraf vir diefstal van ‘n motorvoertuig, sonder die opsie om ‘n boete te betaal, gevonnis.

Brig. Hlulani Mashaba sê die stewige vonnis volg nadat Mthombeni op 30 Oktober deur die polisie op die N1 Hoofweg by die Nyl-tolplaza met ‘n grys Toyota Fortuner, wat deur hom bestuur is, onderskep is. ‘n Wenk is opgevolg van ‘n gesteelde voertuig wat op die N1 Hoofweg na Beitbrug op die grens na Zimbabwe, onderweg is.

‘n Saak van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is dadelik geopen, waarna voorlopige ondersoek aangedui het die voertuig is op 25 Oktober op Benoni gekaap.

Die beskuldigde het nie vir borg aansoek gedoen nie. Buiten sy ses jaar vonnis is Mthombeni onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die ondersoekspan is vir die suksesvolle inhegtenisneming geprys.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel