Tien dood toe storm Ciaran Wes-Europa tref

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: SA-regering het sowat R180 miljoen bestee om Brics-beraad aan te bied

BRUSSEL & VK. – Minstens 10 mense is dood toe Storm Ciaran Wes-Europa getref het met rekordwinde van tot 200 kilometer per uur. Hierdie storm het chaos veroorsaak met die sluiting van verskeie hawens, asook vlug- en spooronderbrekings.

Storm Ciaran, wat op die hakke van Storm Babet volg wat twee weke gelede gewoed het, is aangedryf deur ‘n kragtige straalstroom wat vanaf die Atlantiese Oseaan ingeswaai het en swaar reën en verwoestende winde ontketen het. Dit het reeds swaar oorstromings in Noord-Ierland en dele van Brittanje veroorsaak.

Italiaanse owerhede het Vrydag gesê drie mense is in Toskane dood, Rekordlesings reënval is aangemeld en ‘n noodtoestand afgekondig. Volgens Eugenio Giani, goewerneur van Toskane. was ‘n 85-jarige man wat verdrink in sy huis gevind is, een van drie oorledenes. “Wat vanaand in Toskane gebeur het, het ’n naam: klimaatsverandering,” het hy op X, voorheen bekend as Twitter, geskryf. Dario Nardella, burgemeester van Florence, het gesê die “situasie in die stad is kritiek”.

Bome wat deur stormsterk winde gebreek is, het die meeste sterftes in Europa veroorsaak. In die Belgiese stad Gent is ‘n vyfjarige Oekraïense seun en ‘n 64-jarige vrou deur vallende takke gedood. Vallende bome het vroeër ‘n vragmotorbestuurder in sy voertuig in die noorde van Frankryk se Aisne-streek se dood veroorsaak. Franse owerhede het ook die dood aangemeld van ‘n man wat van sy balkon in die hawestad Le Havre geval het. ’n Man in die Nederlandse dorpie Venray, ’n vrou in Sentraal-Madrid en ’n persoon in Duitsland is ook na wat berig word, dood as gevolg van stormtoestande.

Sowat 1,2 miljoen Franse huise was sonder elektrisiteit toe die storm die noordwestelike kus getref het. Byna 700 000 mense was Donderdagaand sonder krag, volgens die netwerkbestuurder Enedis. 

#StormCiaran #Europa #Afrikaans #Nuus

Bronne gebruik: eNCA; SkyNews; The Guardian; The BBC.