SA-regering het sowat R180 miljoen bestee om Brics-beraad aan te bied

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Sowat 200 plakkershutte brand in Khayelitsha uit

Die regering het meer as R100 miljoen gespandeer om die onlangse 15de Brics-beraad aan te bied. Dit is reeds aan die lig gebring dat R75 miljoen aan polisiëring en sekuriteit vir die beraad bestee is, wat die gesamentlike bedrag wat aan die driedaagse geleentheid bestee is op byna R180 miljoen te staan ​​bring.

Emma Louise Powell, DA-LP, het ‘n skriftelike parlementêre vraag aan Naledi Pandor, die minister van internasionale betrekkinge, gestel oor die koste om die beraad aan te bied. Pandor het geantwoord dat die uitgawes wat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) aangegaan het om die beraad aan te bied, R104 350 405,79 was.

Louise-Powell het in ’n verklaring gesê die drie dae lange beraad het die Suid-Afrikaanse belastingbetaler nie minder nie as R180 miljoen gekos. “Hierdie uitgawe is ’n skop in die tande vir gewone Suid-Afrikaners wat aan hulself oorgelaat is in ’n land met een van die hoogste misdaad- en werkloosheidsyfers ter wêreld,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg: “Hierdie miljoene, wat aan ‘n talkshop bestee is, kon bestee word om die verlammende lewenskostekrisis waarmee Suid-Afrikaners tans worstel, aan te spreek.” Gegewe die afwesigheid van ‘n enkele Brics-handelsooreenkoms, het Louise-Powell voortgegaan,is dit te betwyfel of Suid-Afrika enige tasbare ekonomiese voordeel uit die alliansie kan trek. “Omgekeerd kan Suid-Afrika se belyning binne die groeiende Brics-blok – wat nou teokratiese diktature soos Iran insluit – bestaande verhoudings met ons grootste handelsvennote in die Weste in gevaar stel,” het sy gesê.

#BRICS #Regering #Spandeer #Geld #Afrikaans #Nuus

Bronne gebruik: News24; Demokratiese Alliansie verklaring deur LP (31 Oktober 2023).