NOORDWES. – Jean-Pierre Bingham, Esmé Labotske en hul drie kinders, Benjamin, Mianique en Luané, het Sondagaand tydens ‘n strukturele brand by die Purple Moss-skuiling, in die Zandfontein-area op Brits waar hulle gebly het, doodgebrand.
HEMS het ‘n oproep van ‘n huis wat brand ontvang, waarna hulle saam met Station 21 Fire & Rescue reageer het. Met aankoms het hulle die struktuur in ligte laaie gevind, waarna hulle sy aan sy met Madibeng-brandbestryders gewerk het om die brand te blus.
HEMS sê ongelukkig was twee volwassenes en drie kinders binne-in die gebou vasgekeer. Hulle is op die toneel dood verklaar. Die brand het erge strukturele skade aangerig.
Die oorsaak van die brand word ondersoek.
Ella Lourens van die VF Plus het in ‘n sosialemediaplasing gesê sy het van die brand gehoor en het telefonies probeer om met Esmé in verbinding te tree. Sy het daarna van die gesin se afsterwe gehoor en haar medelye uitgespreek.
Letitia Reynecke sê in ‘n plasing meer mense is tydens die brand dakloos gelaat en het vir skenkings gevra. Sy het ook die oorledenes se geboortedatums gedeel: JP 18 Jan. 1997, Esmé 16 Sept. 1998, Benjamin 4 Aug. 2015, Mianique 27 Jan. 2020, Luané 2 Apr. 2021.
Bronne: HEMS, Ella Lourens en Letitia Reynecke
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



