GAUTENG. – Vyf verdagtes, waarvan twee gewond, is Dinsdag in Hillbrow vir beweerde poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur en opsetlike saakbeskadiging in hegtenis geneem nadat hulle met JMPD se honde-eenheid in ‘n hoëspoedjaagtog betrokke was.
Supt. Xolani Fihla sê beamptes was in Bruma met misdaadvoorkomingspatrollies besig toe hulle ‘n verdagte silwer Volkswagen Polo wat vinnig ry, opmerk.
Die beamptes het blou ligte en sirenes geaktiveer, die motor agtervolg en aangedui dit moet stop. Die bestuurder het roekeloos geraak en ander padgebruikers in gevaar gestel. In die omgewing van Cyrildene het die insittendes van die Polo op die beamptes geskiet, wat teruggeskiet het.
Fihla sê tydens die jaagtog het een van die verdagtes uit die bewegende motor gespring, waarna die agtervolging voortgeduur het.
“Op die hoek van Wolmarans- en Nuggetstraat het die verdagte voertuig beheer verloor en teen ‘n muur gebots.”
Altesaam vyf verdagtes, waarvan twee tydens die skietery beseer is, is in hegtenis geneem. Voorlopige ondersoek dui aan die verdagtes het na bewering so vinnig gery, aangesien hulle glo by ‘n huisroof in Primrose, Germiston betrokke was. Items soos ‘n televisiestel, skootrekenaars en juwele, wat vermoedelik tydens die huisroof gebuit is, is in die verdagtes se besit gevind.
“Five live ammunition and a replica firearm were also recovered inside the vehicle.”
Die verdagte motor het vals nommerplate gehad. Die oorspronklike nommerplate is binne die motor gevind. ‘n Navraag na die voertuig het aan die lig gebring dit is deur die verdagtes by ‘n motorverhuringsagentskap gehuur.
Fihla sê drie van die verdagtes is by Hillbrow-polisiestasie aangehou, terwyl die twee wat tydens die skietery beseer is onder polisiebewaking in die Charlotte Maxeke-hospitaal opgeneem is.
Daar is op die voertuig beslag gelê, waarna dit by Aeroton-polisie ingeboek is.
Bron: JMPD: Johannesburg Metropolitan Police Department
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



