KWAZULU-NATAL. – Die liggame van vyf mans is Woensdagaand omstreeks 21:30 doodgeskiet in ‘n HOP-huis in die Tambo Plaza-area in Amaoti gevind.
Brig. Jay Naicker sê die Inanda-polisie het inligting van ‘n skietvoorval ontvang. By die huis is die oorledenes met verskeie skietwonde aangetref.
Naicker sê al die oorledenes is vermoedelik in hul 20’s. Die polisie kon vasstel hulle was ten tyde van die skietvoorval in die huis waar hulle deur onbekende verdagtes geskiet is wat daarna in ‘n wegkommotor gevlug het.
‘n Sesde slagoffer wat in die hand geskiet is, is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Volgens inligting wat deur die polisie ingesamel is, kan die motief moontlik dwelmverwant wees.
‘n Provinsiale taakspan het die misdaadtoneel vir leidrade en inligting geprosesseer en sal die ondersoek na die moorde behartig.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



