Nienaber, Etzebeth, Libbok genomineer vir Wêreldrugby-toekennings

Deel hierdie storie / Share this story

LEES OOK: Stad Kaapstad bied gratis ondersteunersparke aan vir Rugbywêreldbeker-eindstryd

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber, slot Eben Etzebeth en losskakel Manie Libbok is onder ‘n topklas-lys van genomineerdes vir die 2023 Wêreldrugby-toekennings, wat Sondag 29 Oktober by die Opéra Garnier in Parys oorhandig word.

Die toekennings vind plaas slegs ‘n dag ná Saterdag se Wêreldbekerrugby-eindstryd in die Stade de France.

Nienaber is in aanmerking vir die Wêreldrugby-afrigter van die Jaar-toekenning, terwyl Etzebeth en Libbok onderskeidelik in die kategorieë Wêreldrugby Mans 15s Speler van die Jaar en Wêreldrugby Mans 15 Deurbraakspeler van die Jaar benoem is. Etzebeth is ook gekies vir die Wêreldrugby Mans 15s Droomspan.

Nienaber sal teen Ian Foster (Nieu-Seeland), Andy Farrell (Ierland) en Simon Raiwalui (Fiji) vir die wêreld se mees gesogte toekenning vir afrigters meeding. Nienaber het in 2020 die rol as Springbok-hoofafrigter oorgeneem nadat hy as hulpafrigter onder Rassie Erasmus gedien het. Erasmus het ná die span se Wêreldbeker-oorwinning van Bok-hoofafrigter na SA Rugbyse Direkteur van Rugby geskuif.

Etzebeth, wat tans die derde mees bekroonde Springbok-speler van alle tye is met 118 toetse agter sy naam, is saam met Bundee Aki (Ierland-senter), Antoine Dupont (Frankryk se skrumskakel en kaptein) en Ardie Savea (Nieu-Seeland) genomineer vir die Speler van die Jaar-toekenning.

Libbok verskyn op ‘n opwindende lys benoemdes vir Deurbraakspeler van die Jaar saam met Louis Bielle-Biarrey (Frankryk se vleuel), Mark Tele’a en Tamaiti Williams ( die Nieu-Seelandse vleuel en stut). 

“Ons wil graag vir Jacques, Eben en Manie gelukwens met die benoemings vir hierdie gesogte toekennings en ons wens hulle sterkte toe vir die toekenningseremonie,” het SA Rugby-president, Mark Alexander, gesê. “Hierdie toekennings gee erkenning aan die beste afrigters en spelers ter wêreld, en om benoemdes in drie kategorieë te hê, is ‘n bewys van die hoё gehalte van ons afrigters en spelers.”

#Nienaber #Etzebeth #Libbok #Rugby #Springbokke #Afrikaans #Nuus

Bronne gebruik: SA Rugby Persverklaring (26 Oktober 2023); Wêreldrugby; News24; TimesLive.