Sol Plaatje se Eskom-skuld voorspel donker dae

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) is bekommerd dat Sol Plaatje se voortdurende versuim om stygende Eskom-skuld behoorlik te bestuur inwoners in die duister kan dompel.

Tydens vandag se raadsvergadering is dit bevestig dat Sol Plaatje se uitstaande skuld aan Eskom van R1 miljard in September tot R1,2 miljard tans toegeneem het. Dit is meer as driekeer wat in Januarie 2022 aan Eskom verskuldig was.

Volgens inligting van die provinsiale tesourie het Sol Plaatje versuim om in Julie te betaal en het in Augustus te min betaal. Dit stel Sol Plaatje ongetwyfeld bloot aan die toenemende risiko van ‘n elektrisiteitsonderbreking. Dit vereis drastiese optrede om inwoners, wat reeds onder beurtkrag én waterafsluitings gebuk gaan, van verdere elektrisiteitsonderbrekings te bespaar.

Die DA is bekommerd dat Sol Plaatje nie oop kaarte met die raad speel oor die erns van die skuldsituasie nie. Vrae van die DA ten opsigte of enige betalings gemis is, of nie ten volle betaal is nie, is nie beantwoord nie. Daar was ook geen reaksie ten opsigte van die skuldinvorderingskoers nie. Dit is kommerwekkend aangesien verbeterde skuldinvordering noodsaaklik is vir die munisipaliteit om finansieel kop bo water te hou.

Soos voorheen deur die DA gewaarsku, is drastiese optrede nodig om Sol Plaatje-munisipaliteit van finansiële ineenstorting te red. Dit sluit egter nie Sol Plaatje se aansoek vir die Eskom-skuldverligtingsprogram, soos weer deur die ANC gesteun is, in nie. Die munisipaliteit is nie daartoe in staat om aan die streng vereistes van dié program te voldoen nie en nie-nakoming kan Sol Plaatje sy elektristeitsverhandelingslisensie kos. Elektrisiteitsverkope is egter die bron van twee derdes van Sol Plaatje se inkomste.

In plaas daarvan om sy voortbestaan te waag, moet Sol Plaatje konsekwent die invordering van inkomste verhoog en stabiliseer en verseker dat die maandelikse Eskom-betalings volledig nagekom word. As Sol Plaatje dit nie kan reg kry nie, is daar geen manier dat dit met die nog strenger skuldverligtingsprogram sal slaag nie.

Die DA gaan voort om die munisipaliteit se aansoek om die skuldverligtingsprogram teen te staan. Ons sal ook aandring op deursigtigheid oor waar Sol Plaatje met Eskom staan. As Sol Plaatje se ligte afgeskakel gaan word, verdien inwoners minstens ‘n waarskuwing.

Media Navrae

Chris Whittaker, Rdl.
Sol Plaatje-munisipaliteit
081 815 5974

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel