Gauteng. – ‘n Sakeman (53) wat glo Maandagaand buite sy sakeperseel in Bramley ontvoer is, is Dinsdagmiddag deur die polisie by ‘n huis in Kemptonpark gered en met sy familie herenig. Tydens die reddingsoperasie van die polisie se teen-ontvoeringstaakspan is nege verdagtes van ‘n beweerde ontvoeringsindikaat wat Portugese sakemanne teiken, vasgetrek.
Brig. Athlenda Mathe sê die sakeman is veilig en sonder beserings gevind.
“‘n Totaal van nege verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem.”
Mathe sê daar is vier mans en ‘n vrou by die adres in Kemptonpark in hegtenis geneem, waarna daar na ‘n tweede adres in Hillbrow nog twee vroue en ‘n man vasgetrek is.
‘n Polisielid (41) is vir dieselfde beweerde misdaad by sy werksplek in hegtenis geneem.
Die beweerde sindikaat word glo met ten minste vyf ontvoerings van Portugese sakemanne, waarna ‘n losprys van die slagoffers se familielede geeïs is, verbind.
Tydens Maandagaand se beweerde ontvoering was nog geen losprys betaal toe die slagoffer gered is nie.
Genl. Fannie Masemola het teleurstelling oor die polisielid wat as deel van die sindikaat vasgetrek is, uitgespreek, maar ook bygevoeg: “It is pleasing to note that the organisation is ridding itself of corrupt elements. No member of the SAPS is above the law, irrespective of their rank. Police officers who are found on the wrong side of the law are dealt with accordingly. We will continue to root out rogue police officers from within our ranks.”
Mathe sê die taakspan wat sedert April in werking is, het in Gauteng alleen reeds 70 verdagtes, verbind aan ontvoerings waarna ‘n losprys geeïs is, in hegtenis geneem.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



