TUINROETE. – Watervlakke het gestyg as gevolg van die aanhoudende reën wat die naweek in Mosselbaai en omliggende gebiede geval het. Dit het veroorsaak dat werknemers gestrand was as gevolg van paaie wat oorstroom is en gesluit moes word.
Die NSRI, asook die brand-en-reddingsdienste van Mosselbaai, het Saterdagmiddag 83 werkers van ‘n nabygeleë maatskappy, wat by Geelbekvleirivier naby Brandwacht gestrand was, gehelp.
Nadat die werkers alternatiewe uitgangsroetes ondersoek het en dit ook deur vloedwaters onbegaanbaar was, het hulle besef hulle is gestrand en kon nie na ‘n dag se werk op hulle eie by die huis kom nie.
Die NSRI het die mans en vrouens om die beurt met ‘n reddingsvaartuig veilig oor die rivier geneem, waarna hulle na hul huise vervoer kon word. Geen beserings is aangeteken nie.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het deurentyd die laagliggende gebiede gemonitor en waar paaie gesluit was, motoriste en voetgangers gemaan om uit die geaffekteerde areas weg te bly.
Inwoners van Pine Creek en Grootbrakrivier wat deur die vloedwaters geraak is, is deur nooddienste bygestaan.
George-munisipaliteit het bome wat in Kaaimanspas geval het, asook rotse en puin van modderstortings, verwyder.
Die Saasveldpad is ook opgeruim nadat ongeveer ses bome oor die pad geval het en minstens drie modderstortings voorgekom het.
Motoriste is gemaan om versigtig te wees.
FiND iT het met ‘n werknemer in die omgewing van Kleinbrakrivier gesels wat ook Saterdag saam met ander werknemers van die omgewing vasgekeer was.
“Dit was nog vroegoggend toe ons die rivier sien styg. Ongeveer 10 minute nadat ons dit rapporteer het, was die paaie toe.”
Die werkers het later die dag ‘n alternatiewe roete van die werksplek probeer volg om huis toe te gaan, maar dit was tevergeefs en hulle moes terugdraai. Dit was eers in die nagtelike ure wat paaie weer oop en veilig begaanbaar was en die werkers huis toe kon keer.
“Dit is ‘n stresvolle situasie om in te verkeer wanneer jy weet alle toegangspaaie is toe, jy is ingehok en kan nie by jou geliefdes uitkom nie. Terwyl mens die krag van die natuur aanskou en regtig magteloos is, moes ons maar net wag en geduldig wees. Dit was ‘n baie lang dag,” het die werknemer, wat anoniem wil bly, afgesluit.
Bronne: NSRI, Mosselbaai-munisipaliteit
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



