LIMPOPO. – Die polisie op Tzaneen is op soek na twee tieners wat glo Vrydag ‘n motoris (44) in die buitewyke van die dorp doodgeskiet en ‘n passasier (30) verkrag het.
Kol. Malesela Ledwaba sê die polisie het omstreeks 13:00 die rapportering van ‘n verkragting naby die polisie se voorsieningskettingbestuurskantore gekry.
Die slagoffer het aan die polisie verduidelik sy het saam met die oorledene in ‘n Suzuki Swift-motor gery. Hulle het na bewering op die R71 pad langs die Sasol-vulstasie ‘n saamrygeleentheid aan twee mans gebied. Terwyl hulle gery het, het een glo op die Georges Valley-pad gevra daar moet gestop word en die handrem moet opgetrek word. Die bestuurder (oorledene) van die voertuig het glo geweier, waarna een van die verdagtes na bewering ‘n wapen uitgehaal en die oorledene van agter geskiet het.
Die vrou (slagoffer) is hierna glo beveel om na die agtersitplek te skuif en die verdagtes het die voertuig bestuur. Hulle het na bewering in die rigting van die dorp gery waarna die oorledene se liggaam op ‘n grondpad uitgegooi en daar verder met die slagoffer gery is. Sy is glo van kontant, bankkaarte en selfone besteel, terwyl haar bankkaarte ook gebruik is.
Ledwaba sê die twee verdagtes het daarna die slagoffer in bosse verkrag en van die toneel gevlug. Die slagoffer het na die nabygeleë polisiekantore gestap en die misdaad aangemeld.
Die voertuig is later uitgebrand in die Letsitele-polisiëringsarea gevind.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord, verkragting, opsetlike saakbeskadiging, roof met ‘n vuurwapen en kaping.
Enigiemand met inligting van die verdagtes kan AO Phaladi Makola by 082 749 2233 bel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



