Stasiebevelvoerder van Jacobsdal-polisiestasie vir ‘diefstal’ in hegtenis geneem

Deel hierdie storie / Share this story

VRYSTAAT. – Kapt. Pieter Hendrik Adriaan Rodgers (55), die stasiebevelvoerder van Jacobsdal-polisiestasie, het op ‘n aanklag van diefstal in die Jacobsdal-landdroshof verskyn.

Kapt. Lorraine Earle sê na bewering is ‘n verdagte op 17 Februarie 2022 vir handel in dagga op Jacobsdal in hegtenis geneem. Tydens die inhegtenisneming is daar op dagga en kontant ter waarde van R2 460 beslag gelê, waarna dit as bewysstukke in die bewysstukregister ingeboek is.

Nadat sy saak afgehandel is, is die beskuldigde glo terug na die polisiestasie om die geld terug te kry, maar dit was weg.

Die stasiebevelvoerder was glo die laaste persoon wat vir ontvangs van die kontant in die SAP 13-register (bewysstukregister) geteken het. Omdat kapt. Rodgers die laaste persoon is wat vir die kontant geteken het, is hy in hegtenis geneem en ‘n dossier is vir beslissing na die NVG gestuur.

Rodgers het in die landdroshof verskyn en is met ‘n waarskuwing vrygelaat. Hy moet weer op 31 Oktober in die hof verskyn.

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale kommisswaris het opdrag gegee vir onmiddellike instelling van departementele stappeteen Rodgers.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel