‘Werksoekers brand voertuie’

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA. – ‘n Groep werksoekers het Maandag gewelddadig geraak en glo drie voertuie aan die brand gesteek na ‘n ‘n ooreenkoms tydens ‘n beplande vergadering met Universal-steenkoolmyn nie bereik kon word nie.

Brig. Selvy Mohlala sê na bewering het onderhandelinge met die werksoekers en die myn reeds op 2 Oktober begin, aangesien bekommernis bestaan omdat daar glo nie vir plaaslike persone beskikbare werksgeleenthede op die myn is nie.

Die opvolgvergadering was vir Maandag geskeduleer, maar die myn kon glo nie al die werksoekers op die perseel toelaat nie, slegs die verteenwoordigers. Die groep het glo nie saamgestem nie en geweld het gevolglik uitgebreek.

Die groep is deur die polisie terug na Siyathuthuka begelei. Hulle het volgens inligting weer gisteraand bymekaargekom waarna twee voertuie van verskillende maatskappye wat na bewering by die myn ingekontrakteer is aan die brand gesteek is. Daarna is die groep glo na ‘n mynwerker, vermoedelik ‘n bestuurslid, se huis en sy voertuig is ook aan die brand gesteek. Vanoggend is paaie geblokkeer en bande gebrand.

Die polisie is teenwoordig en het twee mans, onderskeidelik 26 en 29 jaar oud, vir openbare geweld in hegtenis geneem. Die situasie is tans onder beheer en word deur die polisie gemonitor.

Die twee aangehoudenes sal na verwagting binnekort in die Belfast-landdroshof verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel