GAUTENG. – In ‘n TikTok video-opname van @luitenend kan gesien word hoe ‘n transitorooftog met presisie die naweek op die N12 uitgevoer word. Intussen het die polisie op twee gewere en ammunisie wat vermoedelik met die misdaad verbind kan word, beslag gelê.
Yusuf Abramjee van Crime Watch sê in ‘n X-plasing 253 transitorooftoge het tot dusver vanjaar plaasgevind, met Gauteng die meeste, gevolg deur die Oos-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Limpopo.
Brig. Athlenda Mathe sê die polisie het die wapenvonds tydens ‘n intelligensiegedrewe operasie in ‘n agterkamer in Mapetla Soweto gemaak.
Die polisie het ‘n deur van die kamer oopforseer en op die twee gewere, wat ‘n AK-47 aanvalsgeweer, magasyne en 71 rondtes ammunisie insluit, afgekom. Die wapens is vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit aan ander transitorooftogte en verwante rooftogte verbind kan word. Beslag is verder op balaklavas, handboeie, beanies, beskermende skoene en kontantdepositostrokies gelê.
Mathe sê die soektog na ongeveer 15 tot 20 verdagtes duur voort.
Die publiek word weereens gemaan dat indien hulle geld na ‘n transitoroof op ‘n misdaadtoneel optel hulle dienooreenkomstig van diefstal en regsverydeling aangekla kan word.
Volgens eNCA-beriggewing het dit die polisie 30 minute geneem om by die toneel uit te kom en het Wahl Bartmann, die HUB van Fidelity, gesê dit is tyd dat die SANW ingebring word om met die sindikate af te reken.

Foto’s: SAPD
Bronne: SAPD, Yusuf Abramjee, Tik Tok @luitenend en eNCA
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



