VRYSTAAT. – ‘n Kleutermeisie (4) is vanoggend omstreeks 06:15 dood agter ‘n toilet in Selosesha gevind.
Sers. Mahlomola Kareli sê die kleuter se ma het haar gisteraand omstreeks 17:15 as vermis aangemeld nadat sy haar nie kon kry nie.
Na bewering het die kind toestemming gevra om na die toilet, wat buite die huis is, te gaan, waarop haar ma glo ingestem het. Na ‘n ruk het haar ma na haar gaan soek.
Selosesha het sonder sukses saam met gemeenskapslede na die kleuterdogter gesoek en ‘n saak van ‘n vermiste persoon is geopen.
Bure het glo vanoggend op die liggaam van die kleuter agter haar ouers se toilet afgekom. Die polisie is ontbied en sy is op die toneel dood verklaar. ‘n Geregtelike doodsondersoek is vir verdere ondersoek geopen, aangesien die kind geen sigbare beserings gehad het nie.
‘n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal.
Enigiemand wat met inligting oor die kleuter se sterfte kan help, word versoek om speur.kapt. Theodora Sekwena by 082 553 8208 te bel.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



