Kinderverkragter tot 30 jaar tronkstraf gevonnis

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Geen DNS van beskuldigdes op Senzo Meyiwa-moordtoneel gevind

VREDENBURG. – ’n Reeksverkragter (49) is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagtes van seksuele aanranding, die gebruik van kinders vir pornografie, die vervaardiging van kinderpornografie, seksuele gereedmaking van kinders, kinderverkragting en die blootstelling van kinders aan pornografie.

Die man, wie se identiteit nie bekend gemaak sal word nie om sy slagoffers te beskerm, se dogter was vriende met die slagoffers.

Die man, pa van drie kinders en getroud vir 14 jaar, het kinders tussen die ouderdomme van sewe en 12 geteiken toe hulle by sy dogter gaan kuier het.

Hy het die kinders vir nege jaar, tussen 2013 en 2022, misbruik. Drie van die vier slagoffers was vriende met sy eie dogter. Die slagoffers was almal onder die ouderdom van 14. Hy het hulle in die gesinshuis misbruik.

Die verdagte het ’n ooreenkoms met die staat aangegaan na hy op 28 April 2022 by sy huis in hegtenis geneem is.

Hy is tot 135 jaar direkte tronkstraf gevonnis, maar as gevolg van party van die vonnisse wat aaneen loop, sal hy 30 jaar tronkstraf uitdien.

Sy naam sal in die register vir seksuele misdadigers aangeteken word en hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit of met kinders te werk.

Bronne: IOL, SAPS, NPA

Lees ook: Geen DNS van beskuldigdes op Senzo Meyiwa-moordtoneel gevind