AfriForum Jeug by Tuks eis deregistrasie van EFF Student Command

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – AfriForum Jeug beskuldig die EFF Student Command by die Universiteit van Pretoria in Hatfield van haatspraak, intimidasie en kampustoegang wat geweier word vir studente wat nie swart is nie en eis die studentevereniging se deregistrasie.

In ‘n sosialemediaplasing sê die jeugbeweging daar kan op ‘n video gehoor word hoe ‘n EFF-lid wat op 27 Septemper by ‘n kampushek was, “only black students” sê.

Op 9 Oktober het hulle uit protes plakkers by die ingange van Tuks aangebring wat sê “Blacks Only” en “No Whites Allowed.” Dit het volgens die jeugbeweging ‘n debat begin en die universiteit spoedig laat optree om dissiplinêre stappe oor die aanbring van die plakkers te neem, maar stees nie oor die klagtes wat hulle aan die universiteit op skrif ingedien het nie.

Die beweging sê hulle sal aanhou om druk op die universiteit uit te oefen om die bestuur van die EFF Student Command te deregistreer.

“Die universiteitsbestuur kan nie hulself van hierdie insident distansieer nie. Van hulle studente is hierdeur benadeel en van hulle studente was by hierdie rassistiese voorval betrokke. Tuks doen niks en dit dwing ons om die vraag te vra: Is dit die UP se standpunt dat slegs swart studente welkom is op kampus? Of gaan hulle uiteindelik teen die skuldige partye optree en die EFF Student Command deregistreer?” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die jeugbeweging vra die publiek om hulle met ‘n petisie by www.skorseff.co.za, om die universiteit tot die deregistrasie te dwing, te ondersteun en het selfs plakkate ontwerp wat tien beleidsdokumente van die universiteit voorstel.

Een van die beleidsdokument-bepalinge sê voornemende studente wat nie tydens die aansoekproses hul ras aandui nie se aansoek om toelating sal as onvolledig beskou word.

Lees AfriForum Jeug se sosialemediaplasing hier onder:

AfriForum Jeug ontbloot dubbele standaarde by Tuks met protesplakkers wat vurige debat ontlok.

AfriForum Jeug het vanoggend by die ingange van die Universiteit van Pretoria (UP) se kampus in Hatfield plakkers geplak wat die kollig plaas op rasse-uitsluiting en die universiteit se dubbele standaarde. Dié protesaksie volg nadat EFF-lede op 27 September wit studente verhinder het om toegang tot die kampus te kry. EFF-lede het tydens daardie voorval onder meer uitgeroep: “Only black students!” AfriForum Jeug het reeds verskeie briewe aan die universiteit gerig waarin die deregistrasie van die EFF Student Command (EFFSC UP) as studentevereniging geëis word. Die universiteit het eenvoudig geweier om daarop te reageer.

Die doodse stilte waarmee UP die briewe begroet het, het gefrustreerde AfriForum Jeug-lede genoop om ’n nuwe benadering te volg om antwoorde uit die universiteit te kry. Die plakkers is vanoggend (9 Oktober) vroeg by die ingange van die Hatfield-kampus opgeplak. ’n Reusedebat is binne enkele ure hieroor ontketen. Die plakkers lui: “Blacks only” en “No whites allowed.”

Universiteitsbestuur het vinnig gereageer, die optrede veroordeel en met dissiplinêre stappe teen die persone wat die plakkers opgesit het, gedreig. Dis skokkend dat die universiteit so blitsvinnig en heftig reageer op ’n protesaskie teen rasse-uitsluiting op hul kampus, terwyl diegene wat hul skuldig gemaak het aan werklike rasse-uitsluiting geen gevolge vir hul aksies dra nie.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, sê die kontras tussen dié twee voorvalle spreek boekdele. “AfriForum Jeug sal aanhou druk toepas om toe te sien dat die EFFSC UP gederegistreer word en die oortreders van daardie voorval verantwoordelik gehou word vir hul optrede, aangesien die universiteit nou bewys het dat hulle wel in staat is om vinnig te reageer,” sê Boshoff.

“Studente word op die Universiteit van Pretoria se Hatfield-kampus geïntimideer en op grond van hul ras uitgesluit deur die EFF Student Command UP. Intussen was die universiteit hul hande in onskuld, maar wanneer daar protesaksie gedoen word wat hierdie gedrag uitlig, neem Tukkies blitsvinnig aksie en dreig met dissiplinêre stappe. Dié optrede is hoogs verdag,” sluit Boshoff af.

Bron: AfriForum Jeug

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel