VRYSTAAT. – ‘n Vroulike buitelandse burger (48) is Donderdag in Charlesstraat in Bloemfontein by ‘n internetkafee vir die beweerde druk van vervalste dokumente en bedrog in hegtenis geneem.
Lt.kol. Thabo Covane sê polisielede het ‘n buitelandse burger (32) in ‘n voertuig in Generaal De Wet-woonbuurt as deel van stop-en-deursoekingsdienste voorgekeer. Sy dokumente is nagegaan en die geoefende oog van ‘n polisielid het onreëlmatighede met die posisie waar ‘n polisiestempel op die aansoek vir verlenging van ‘n visum aangebring was, opgemerk.
Die verdagte het die lede na die internetkafee geneem waar hy glo die dokument bekom het.
Nadat die vroulike verdagte van die internetkafee toestemming verleen het vir deursoeking het polisielede glo op vervalste tydelike asielsoekvisums, afdrukke van soortgelyke dokumente vir bewys van adres, en afdrukke van gereproduseerde verklarings, soortgelyk as wat hulle by die man in die voertuig gevind het, afgekom.
Personeel van die plaaslike kriminele rekordsentrum en ander rolspelers het opgedaag en die toneel verwerk. Hulle het op selfone, sowel as rekenaar- en druktoerusting beslag gelê.
Die man sowel as die vrou is in hegtenis geneem en saakdossiere is by Parkweg-polisiestasie geopen. Hulle sal na verwagting in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
Bron: SAPD
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



