Voormalige gesondheidsdepartementshoof en makkers kry borg na beweerde R86 miljoen tenderbedrog

Deel hierdie storie / Share this story

NOORDWES. – Lydia Keneilwe Sebego (63) voormalige gesondheidsdepartementshoof in die provinsie, Vuyo Mbulawa (54) hoofdirekteur by dieselfde departement en Roulgh Lotwane Mabe (69) ‘n diensverskaffer, is op 28 September deur die Valke in Mahikeng in hegtenis geneem op verskeie beweerde klagtes wat die departement R86 miljoen verlies laat ly het. Na hulle hofverskyning is die saak tot 31 Januarie 2024 uitgestel terwyl nog verdagtes gesoek word.

Sebego word van twee klagtes van oortreding van die wet op die bestuur van openbare finansies beskuldig, Mmulwa word deur 10 klagtes van bedrog en Mabe van ses klagtes van bedrog in die gesig gestaar. Die drie beskuldigdes het borg – Sebego R10 000, Mbulawa R20 000, en Mabe R100 000 – in die Molopo-landdroshof ontvang.

Henry Mamothame vir die NVG sê die trio is geaarsku om nie enige kontak met staatsgetuies of klaers te maak nie. Indien hulle enige reisplanne het, moet die ondersoekbeampte dienooreenkomstig ingelig word.

Die drie was na bewering gedurende 2008 en 2009 betrokke by die tender van twee beoogde hospitale wat in die provinsie gebou moes word. Die tender is aan ‘n maatskappy wat aan Mabe behoort en nog ‘n maatskappy waarvan die verdagte nog in hegtenis geneem moet word, toegeken.

Terwyl die diens waarvoor geteken is, om die hospitale te bou, nie gelewer is nie, is daar glo vals kwitansies uitgereik wat uitbetaal en glo deur Mbulawa gemagtig is en tot die verlies van miljoene rande gelei het.

Volgens bewyse het Sebego glo die ooreenkomste geteken terwyl sy geweet het die twee maatskappy voldoen nie aan vereistes nie.

Bron: NVG

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel